Geskryf deur Deon
|
14 Junie 2009
Posted in
Preke -
Deon Binneman
14 Junie 2009
(Die deurlopend beeld op die skerm vandag is ’n kaart van die Romeinse Ryk wat ons deurgaans daaraan wil herinner dat ons op hierdie eerste Sondag in Koninkrykstyd fokus op die Koninkryk van God).
Onder Isai se seuns sien Ek vir my 'n koning!
Teks: 1 Samuel 15:34-16:13
Geskryf deur Deon Binneman
Ons het aan die begin gesê dat vandag die eerste Sondag van Koninkrykstyd is. Met die kaart van die Romeinse Ryk op die skerm, wil ons telkens daaraan herinner word dat die fokus vandag op die koninkryk is, op die koninkryk van God is.
Die aanbreek van die koninkryk van God was die kern van Jesus se verkondiging. Alhoewel die Ou Testament nêrens van die koninkryk van God praat en dit voorspel nie, was die idee vir die hoorders van Johannes en Jesus wel bekend. In baie Psalms en ook elders word God as Koning van Israel en van die hele lewenswerklikheid bely. Die konings van Israel was dan ook veronderstel om die aardse regeerders volgens God se wil te wees. Hulle mislukkings om aan hierdie verwagting te voldoen het dan ook die verwagting van ’n nuwe Koning, die Messias al hoe meer laat groei. Sedert Pinkster is almal wat in Hom glo, sy liggaam, sy gemeente, gedoop en gesalf met die Heilige Gees (Hand 1-2). In die nuwe bedeling is die kerk en gemeente die uitverkore volk, die nasie van priesters en konings wat hierdie koningskap van God proklameer (1 Pet 2:9).
Dat die Koninkryk van God ’n verrassend vreemde koninkryk is, is seker. Dit is so anders as wat mense sou verwag. In hierdie koninkryk gebeur dinge ook so anders as in aardse koninkryke. Maar dit is hoe God is en hoe Hy werk. Jare gelede al het Murray Janson geskryf dat God, wanneer hy oor die gelykenis van die onkruid tussen die koring skryf, op ’n vreemde manier boer. Hy laat nie onkruid uitskoffel nie. Hy betaal alle arbeiders dieselfde, of hulle nou ’n hele dag of net een uur gewerk het. Hy het gesê God is ’n genadeboer. Net so is God se manier van doen in sy koninkryk ook so anders as verwag.
1. Eerste uitstaande aksent van ons teks is dat dit wat gebeur God se inisiatief is.
Daar word deurgaans op die Here se aktiewe bestuur, as motief van die verhaal, klem gelê. Terwyl Samuel uitsig verloor, “sien” die Here reeds die nuwe toekoms. Hy gee die opdragte, Hy maak die keuse, hy stuur vir Samuel, Hy sien anders en dieper as ’n mens. Hy kies en bekragtig die “man na sy hart” (13:14). Volgende geslagte mag weet: Die rigting wat die koninkryk hier ingeslaan het is God se inisiatief en dra sy sanksie.
Die Koninkryk van God wil ons leer dat Hy regeer. Maar so dikwels is die geloof dat God in beheer is, vir ons ’n probleem! Ons sien so dikwels dinge in die wêreld wat ons wil laat dink dat alles behalwe die Here in beheer is. Maar, die gedagte dat die Koninkryk God se inisiatief is, nie ons s’n nie, wil tog ook weer die geloof in ons wakker maak dat Hy in beheer is en bly, al is dit nie altyd so ooglopend nie.
2. Die spannende opbou van die verhaal is daarop gemik om klem te lê op die menslik onwaarskynlike van God se gekose instrument.
God gebruik menslik gesproke die mees onwaarskynlike instrumente. Hy sien nie wat voor die handliggende is nie. Hy kyk dieper. Hy sien iets anders as ons. Moses hakkel. Jakob lieg. Josef is ‘n dromer. Gideon is bang. Timoteus het maagsere – hy stres te veel. Abraham was te oud. Naomi was ’n weduwee. Rut was ’n vreemdeling – ’n Moabiet. Jona hardloop weg van God. Maria is ’n jong tiener. Petrus was ’n grootmond. Thomas twyfel. Martha was ’n kommerkous en ’n neulpot. Paulus was ’n vervolger van die kerk. Hy vestig sy kerk met vissermandissipels en talle naamlose en huiwerende gelowiges. God sien potensiaal waar niemand dit sien nie, selfs nie eens Dawid se eie pa nie. Uiteindelik kies God, Jesus van Nasaret, die Gekruisigde (Jes 53).
Paulus het dit goed begryp (1 Kor 1:18-25). Dit moet die gemeente aan die begin van Koninkrykstyd goed besef: Nie groot skemas en luisterryke programme nie, maar erdekruike met skatte in, gee gestalte aan sy koninkryk (2 Kor 4:7-13). Groei, glorie, voorspoed en gewildheid, is die groot verleiers van die kerk. God se koninkryk lyk nie so nie en kom nie so nie. Dit kom in en deur die mense wat nie belangrik in eie oë is nie, dikwels die randfigure in die menslike samelewing. Dit is waar en hoe die gemeente moet kyk om God se merkers vir die koninkryk te volg. Geen situasie is vir die Here te erg nie en geen mens of gemeente vir Hom te klein om te gebruik nie.
3. Die derde kernelement van die verhaal is die salwing met olie, maar veral met die Gees van die Here.
Dawid word as koning gesalf. Die salwing het geskied deur die kop van die persoon met olie te smeer of om olie oor sy kop uit te gooi. Dit was ’n simboliese handeling wat gedui het op die aanstelling in ’n amp en ook die aanvaarding van die amp. Dit het die persoon toegelaat om namens en met die gesag van die Here op te tree.
Die salwing het dikwels gepaard gegaan met die ontvangs van die Heilige Gees. Die ontvangs van die Gees dui daarop dat God diegene wat hy roep, ook toerus.
Omdat daar in die geskiedenis van Ou-Testamentiese konings so min van hierdie aspekte tereg gekom het, het die profetiese verwagting van die Groot Gesalfde, die “Messias” wat sou kom, al sterker gegroei tot en met die koms van Jesus, die Messias, wat in Hebreeus gesalfde beteken. Ook die naam Christus beteken Gesalfde in Grieks. Dit het mos by Jesus se doop. Hier is Hy mos deur ’n teken van God aangewys as sy agent vir die vestiging van die koninkryk (Matt 3:16-17, 4:17, 23).
EN NOU:
Wat is die betekenis van hierdie gebeure van lank gelede vir ons? Hoe kan die verkiesing van Dawid as koning en sy salwing en die gedagte van die Koninkryk van God vandag in ons lewe vir ons iets beteken?
In die Ou Testament is daar ook ’n ander verwagting in verband met die Gees wat van belang is vir ons verstaan van die teks vandag. Dit is in besonder verwoord deur die profeet Joël (2:28-32) en is volgens die tradisie direk op Pinksterdag vervul, naamlik dat alle gelowiges met die Gees gedoop, gesalf is. Elkeen is dus deur die Gees afgesonder en toegerus om instrument van die koms van die koninkryk te wees. Hy neem elkeen se gawes en talente in gebruik (1 Kor 12). God is sekerlik by magte om alles wat Hy op aarde gedoen wil hê met een woord te laat gebeur. Maar Hy verkies om mense te gebruik – mense soos jy en ek. Mense wat Hy kies, maar ook toerus.
Sy toerusting vind op ’n besondere manier plaas. Sy Gees kom binne-in ons woon. Hy verander ons van binne af. Die woning, die werkplek van die Gees, is nie in die eerste plek die uitsonderlike indiwidu nie, maar die gemeente waarbinne al die lede hulle funksie verrig (1 Kor 3:16, Ef 2:19-22). Daarom is die gemeente en die gemeenskap van die gelowiges vir ons so belangrik.
Hierdie verhaal van Dawid is opgeneem in die kanon van Israel en het besondere betekenis gekry in tye wanneer die volk in ballingskap of daarna in krisis verkeer het. Dan het die verhaal ’n oriënteringspunt verskaf, perspektiewe geopen oor hoe en waarmee God verkies om te werk. Dan kon die geloofsgemeenskap weet: God bestuur en Hy kan met ons, ten spyte van wie ons is, sy koninkryk laat kom! Ook ons kan weet: God het ons gekies, Hy is in beheer, ten spyte van ons, Hy regeer en Hy is op pad met ons na ’n verrassende nuwe toekoms! Hierdie verhaal beklemtoon dat die Here nie toelaat dat sy koninkryk saam met ʼn eerste, mislukte koning, tot ’n val sou kom nie. Ook ons hou nie sy Koninkryk in stand nie.
Amen
| < Vorige | Volgende > |
|---|






