God is Voorsiener

 

Skriflesing:  Numeri 11:11 – 15, Joh 6:35, Mat 25:34 – 46

Deon Binneman


1. God se sorg in die Ou Testament

Dat die Ou Testament die beeld gebruik van ’n ma wat haar baba borsvoed om die sorg van God teenoor sy volk Israel uit te beeld, is vir ons besondere troosvol.  Wat ook al met jou gebeur, God sorg vir jou!  Dit was veral die geskiedenis van Israel na hulle verlossing uit die slawerny van Egipte in hulle 40-jarige trek deur die woestyn op pad na die beloofde land, dat hierdie pragtige beeld gebruik word.  God sorg vir hulle met manna en kwartels soos ’n ma haar baba versorg.  Die baba is volkome afhanklik van sy ma en die ma voorsien liefdevol dag vir dag aan al haar baba se behoeftes.

Ons teks in Numeri 11:11-15 sluit by hierdie gedagte aan.  Moses kla in hierdie gedeelte by God dat God hom die verantwoordelikheid vir hierdie volk gegee het.  Waarom het U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai?   Hy sê hy is nie hulle ma nie.  Het ek dan swanger geword en hierdie volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê:  Dra hulle aan jou bors soos ’n oppasser met suigelinge doen ...  Hy is nie hulle ma nie.  Hy kan hulle nie versorg soos ’n vroedvrou nie.  God is hulle ma, is die implikasie.  Hy weet hulle is op pad na die beloofde land wat oorloop van melk en heuning, maar iemand moet vir hierdie kinders padkos voorsien op die lang reis daarheen.  En volgens Moses is dit God wat die ma se taak moet verrig om hierdie baba te voed!

Dit is ironies dat Israel nie die gelukkige en tevrede baba is wat ons sou verwag nie!  Hulle kla gereeld oor baie dinge!  Die Here moes hulle maar in Egipte laat bly het.  Daar was daar ten minste genoeg water.  Die Here moes hulle maar in Egipte laat bly het.  Daar was daar ten minste genoeg kos.  Hulle het begin om hulle daaglikse versorging en kos as vanselfsprekend te ervaar.  Hulle het dit wat hulle het nie meer as God se sorg gesien nie, maar as iets wat maar vanself daar moet wees.

2. God se sorg in die Nuwe Testament

Maar dit is nie net die Ou Testament wat so oor God se sorg praat nie.  Die Nuwe Testament doen dit ook, en gaan selfs verder.  As Jesus Christus vir ons leer hoe ons moet bid, dan is een van die dinge wat Hy ons leer, is om te vir ons daaglikse versorging te vra:  Gee ons vandag ons daaglikse brood.  Hy is ons Voorsiener, Hy wil hê dat ons dit daagliks vir Hom moet vra.  Hy voed ons getrou sodat ons sterk en gelukkig deur die lewe kan gaan.

Maar Hy sorg nie net vir ons aardse brood nie.  Jesus maak nie die onderskeiding tussen die aardse brood en geestelike brood nie.  In Johannes 6 sê Hy: 
Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee.  Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”  Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”  Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

God sorg dus vir veel meer as net die aardse!  Hy sorg daarvoor ook.  Maar sy sorg is veel meer omvattend!  Hy sorg vir hierdie lewe maar ook vir die geestelike lewe en vir die lewe hierna!  Daarom is die Nagmaal in die kerk so ’n ryke simbool van God se sorg.  God sorg en voed, ook in die erediens tydens die Nagmaal, met die proebare en tasbare tekens van sy sorgende vergifnis – dit alles word opgeroep deur ’n klein stukkie brood en ’n klein slukkie wyn!

Maar die Nuwe Testament het ook baie ander mooi beelde en vertellings oor die sorg van God in Christus.  Dink aan die verhale wat vertel hoe Jesus vir honger mense kos gee – vis en brood.  Hy eet saam met sondaars, Hy vier die paasmaaltyd saam met sy dissipels.  God se voorsiening word voortgesit in Christus – Hy gee nie net brood nie, Hy IS die brood!

3. God se sorg is vir almal

Dit is belangrik dat Israel moes verstaan dat hulle nie God se voorsiening net vir hulleself kon toe-eien nie, maar dat God se sorg die hele skepping insluit.  Ook die diere is deel van God se skepping – Hy is ook hulle voorsienende God.  Dit sien ons duidelik in die skeppingsverhaal waar die aarde die opdrag kry kos vir mens en dier voort te bring.

4. Is dit ons ervaring?

Is die wêreld so ’n paradys waar almal, mens en dier, elke dag alles wat hulle nodig het maar net kry?  Of is dit eerder die beeld van luilekker land waar die gebraaide eend met die mes en vurk in die rug verbyvlieg en die ryp vrugte laag aan die bome hang sodat jy so op jou rug kan lê en ’n hap gee sonder om eers jou hand uit te steek?

Nee, ek glo julle ervaring is ook dat daar baie swaarkry, lyding en ontbering in die wêreld is, vir mens en dier.  Daar is ’n webwerf (http://www.globalrichlist.com/index.phpwat vir ’n mens ’n baie goeie aanduiding gee van die wye omvang van armoede in die wêreld.  ’n Mens sleutel jou jaarlikse inkomste in en daar word dan bereken hoeveel mense in die wêreld armer en ryker is as jy.  Hiervolgens is 99% van die wêreld se bevolking armer as ek en Sandra (’n dominee en ’n onderwyseres)!

’n Mens kan maar net ’n bietjie lees, jou oë so ’n bietjie oophou waar jy kom, dan sal jy sien dat daar baie mense in die wêreld is wat swaar kry.  Afrika, ons kontinent, is ’n goeie voorbeeld van ’n plek waar baie mense en diere honger en ontbering ken.

5. Waar is die voorsienende God dan?

’n Mens wil soms uitroep dat God moet verskyn om te sien wat met sy skepping gebeur!  Mense en diere gaan dood van die honger!  Mense en diere gaan dood van die dors!  Mense en diere gaan dood vanweë ander mense so optrede!  Die rykdom van die wêreld is so ongelyk verdeel.  ’n Klein groepie het so baie terwyl ’n groot groep so min het.

Waar is ons Voorsienende God wat die hele skepping kos gee in die praktyk?

6. ’n Ernstige gevaar!

Dit is riskant om ’n preek oor God se sorg in gemeentes te preek waar mense min of geen gebrek ken nie.  Wie van ons het al honger gaan slaap?  Die fiktiewe storie oor die laaste Franse koningin mag maklik op ons van toepassing wees.  Toe die gewone mense na die paleis opruk tydens die Franse rewolusie, het sy gevra hoekom hulle so kwaad is.  ’n Bediende het geantwoord dat hulle honger is, hulle het nie brood nie.  Waarop sy sou gevra het:  Hoekom eet hulle dan nie koek nie?  Sy kon die gepeupel se honger nie verstaan  nie!

Ook ons kan so maklik vir ’n honger mens sê God sal voorsien, maar jy troos eintlik maar net jouself.  Ek stuur die ander een met die belofte weg dat God sal voorsien sodat ek self nie iets hoef te doen nie.

7. Ons is God se hande!

Mat 25 is aangrypend!  Jesus gee hier die redes hoekom sommige die ewige lewe sal kry en ander  nie.  Hier staan:
 “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.  Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei.  Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.  “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit,  want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves;  Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’  Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink?  En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee?  Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’  En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

As ons die ellende sien, is dit God wat afwesig is en nie sy belofte nakom nie, of is dit ons wat Hy sy hande en voete en oë en ore op aarde moet wees (letterlik sy liggaam!) wat afwesig is, of blind, of doof of so gewoond aan ander se nood geraak het, dat ons onbewus daarvan geword het?

Hoe dit in die praktyk gedoen moet word, moet elkeen vir homself in verantwoordelikheid voor God uitmaak.  As die antieke Egiptenare al besef het hoe belangrik geregtigheid, balans, moraliteit en ewewig in die samelewing is, hoeveel te meer moet ons as die liggaam van Christus wat sy sorg vir ons ken, hierdie beginsels nie soek en uitleef in ons wêreld nie?

 

 

 

 

AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar