Geskryf deur Deon
|
05 Oktober 2009
Posted in
Preke -
Deon Binneman
4 Oktober 2009
Teks: Psalm 8
Wat is die mens?
Volgens die Duitse filosoof Immanuel Kant is hierdie vraag een van die basiese vrae van die mens in sy soeke na die sin van haar bestaan. Wat is die mens dat U aan ons dink? Dié vraag wat Psalm 8 stel, is gebore uit ontsag vir die grootsheid van God se Naam oor die ganse aarde. As die skrywer van die psalm die hemel aanskou, die maan en sterre waaraan God ’n plek gegee het, dan kan hy nie anders nie as om onder die indruk te kom van die nietigheid van die mens. Die antwoord op hierdie vraag: Wat is die mens?, is: Niks! Dit vestig die grondtoon van die psalm, naamlik verwondering. Die wonder is dat God bemoeienis maak met ’n nietigheidjie in die groot heelal.
As Dawid vra: Wat is die mens? dink hy aan die mens in verhouding tot God. Hy laat nie die klem op die mens self val nie, maar stel sy fokus op die mens voor en in verhouding tot God. Hy weet van geen selfgenoegsame, onafhanklike, abstrakte en geïsoleerde mens wat sonder God kan bestaan nie. Vir Dawid bestaan die mens alleen maar deur die goedheid en genade van God. Daarom kan hy met verwondering vra: ... wat is die mens dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
En dan volg die verbasing van die psalmskrywer in die tweede helfte. Die mens is eintlik self ’n soort God. Dit staan letterlik só in die Hebreeus. Maar wanneer Dawid die vraag na die mens vra, wil hy nie die vermoë van die mens beklemtoon nie, maar wil hy uitdrukking gee aan sy verwondering dat die Here te midde van sy wonderbare skepping die mens kon aanstel as die kroon van dit alles. Daarom sê hy in vers 4: As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het... Die mens heers oor die werk van God se hande. Alles op aarde, selfs die wilde diere, die voëls in die lug en die visse in die see is aan die mens gegee om daarvoor te sorg. Die nietige mens dra die kroon van ’n koning. Ons word met aansien en eer gekroon.
Die verbasing van Psalm 8 het vandag omgekeer in ’n soort vanselfsprekendheid. Die skrywer van Psalm 8 kan dit amper nie glo dat God tog nog aan die mens dink nie, dat God oor kinders en suigelinge besorg is nie. Vir ons is die plek van die mens in die skepping veel meer vanselfsprekend. Dit is eerder God wat vir ons onvanselfsprekend geword het. Psalm 8 kyk op na die hemel en wonder: Wat is die mens? Ons kyk op na die hemel en wonder: Waar is God?
Met die vraag: Wat is die mens? het ons veel minder moeite. Die mens, so argumenteer ons graag, is immers die kroon van die skepping. Ons is na die beeld van God geskape. Ons is geroep om te heers oor die skepping. Ons het eintlik in ons eie oë verskriklik belangrik geword.
Tog vreemd dat as ons soms die slegste wat in die mens te voorskyn kom, probeer vergoeilik deur die uitspraak: Ook maar mens ... Dit is juis verkeerd! Ook maar mens moet gebruik word vir die ons mees verhewe moontlikhede. Want ons is mos net ’n klein bietjie minder as ’n hemelse wese ...
Ons wat net ’n klein bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak is, wat God se verteenwoordiger op aarde moet wees, wat moet heers oor sy tuin, hoe het ons gevaar? Ons was veronderstel om vir die diere, die plante en die grond te sorg, om die aarde soos ’n goeie tuinier te versorg. Maar wat het ons nie aangevang nie! Ons moet sorg vir die skape en beeste – en die varke en hoenders. Maar baie van hulle word deesdae in klein kampies ingehok, vetgevoer met ’n chemiese dieet en uiteindelik geslag. Diere word wreed mishandel en gepynig.
Ons heers oor die wilde diere van die veld deur hulle in wildparke te bewaar. Maar al die orige grond het ons vir onsself opgeëis. So asof een enkele spesie, die mens, ’n goeie reg het op 90% van alle benutbare grond. Talle dier- en insekspesies sterf uit sonder dat iemand ooit van hulle bestaan geweet het. Ons moet ook vir die voëls in die lug sorg. Maar oor die lug self is ons minder bekommerd. Ons pomp die lug vol petroldampe, want ons wil graag in ons motors, taxi’s en vliegtuie ry. Ons verbrand elke jaar tonne steenkool per persoon omdat ons energie nodig het – sonder om aan die gevolge daarvan vir ons eie longe te dink. Ons is letterlik besig om die samestelling van die atmosfeer self te verander. Daar is al hoe meer koolsuurgas in die lug as gevolg van al die energie wat ons verbrand en die bome wat ons afkap. Oor die gevolge daarvan vir ’n oorverhitte planeet moet ons ons maar later bekommer.
Hoe vaar ons in ons verhouding met ander wat soos ons die kroon op God se skepping vorm – die ander mense? Doen mense nie die mees afskuwelike dinge aan en met mekaar nie?
Ons verdedig al hierdie dinge deur te redeneer dat dit ons Godgegewe roeping is om oor die aarde te heers en dit te onderwerp. Ons is immers die kroon van die skepping. Maar ons vergeet dat ons grootsheid juis in ’n insig in ons eie geringheid lê. Die geringheid en die grootsheid van die mens.
Die ontdekking van die geringheid en grootsheid van die mens word omraam deur die lof aan God: O Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde (Ps 8:1, 10). Dit is pas wanneer die psalmis nadink oor die almag van God dat die insig in die geringheid van die mens gebore word. Dit is pas wanneer die psalmis nadink oor die sorg van God dat die insig in die grootsheid van die mens gebore word. Nóg die nadenke oor die hemelruim nóg die nadenke oor lewe op aarde lei die mens vanself na God.
In die Nuwe Testament word hierdie insig op Christus van toepassing gemaak. Dit blyk nêrens beter nie as in Pilatus se beroemde uitspraak in Johannes 17:5: Dit is die mens. Dit is pas in Jesus Christus dat ons die geringheid en die grootsheid van die mens ten volle begryp. Dáár, by die kruis, leer ons wat dit beteken om as mens voor God te staan te kom. Daar sien ons die gevolge van ons menslike arrogansie en hoogmoed raak, miskien vir die eerste keer. Miskien kan dit ons vandag ook help om die ekologiese gevolge van ons menslike arrogansie raak te sien. Dan sal ons dalk begin leer om ons verantwoordelikheid teenoor skape, beeste, wilde diere, voëls en visse, en ander mense, raak te sien.
| < Vorige | Volgende > |
|---|






