28 Julie 2008
Posted in
Preke -
Deon Binneman
Die
Koninkryk bring ’n ingrypende verandering in ons lewe
Deon
Binneman
Skriflesing: Mat 13:31-33; 44-52
Kindertyd:
Met die
lenteblomme van Namakwaland is daar vir die kinders van die verandering wat die
lente bring, vertel. Netso kan Jesus
Christus ook ’n verandering in ’n mens se lewe bring. Die kinders is gevra om te dink aan iemand
wat hulle ken in wie ’n mens hierdie verandering baie duidelik kan sien.
Inleiding:
Die meeste mense sal voorbeelde kan noem van mense wat hulle beskou as goeie voorbeelde van gelowiges wat geheel en al verander is deur die geloof. Vir my is Moeder Theresa ’n verstommende voorbeeld van iemand wat haar hele lewe gewy het aan dit wat vir haar belangrik was, dit wat haar hele lewe opgeëis het, naamlik die liefdevolle uitreik in die naam van Jesus Christus na die ellendigste van mense.
Nader aan ons het die lewe van Beyers Naudé my nog altyd ontroer. Hy en sy vrou het hulle lewe opgeoffer vir dit waarin hulle geglo het.
Die vyf kort gelykenisse:
Ons het vanoggend vyf kort gelykenisse gelees, nl die gelykenisse van die mosterdsaadjie, die suurdeeg, die skat in die saailand en die kosbare pêrel en van die treknet met die baie visse. Ons weet die bedoeling is om vir ons iets van die koninkryk van die hemel daarmee te verduidelik. Al hierdie gelykenisse beeld op een of ander manier die koninkryk van God uit. Daarom begin elkeen van die gelykenisse met "Die koninkryk van die hemele is soos..." . Jesus het sy hele aardse bediening gesien as die koms van die Koninkryk, die koms van God se heerskappy op aarde en in mense se lewe.
In Matteus 4:17 begin Jesus sy bediening met die oproep: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Deur sy woorde en dade het die koninkryk van God aangebreek, het die heerskappy van God in mense se lewe naby gekom: siekes is genees, blindes het gesien, en mense se lewe is ingrypend verander. Jesus verduidelik met wonderwerke, gelykenisse en preke dat die koninkryk van die hemel reeds aangebreek het en wat die aard en vereistes daarvan is. In Matteus word dit ook duidelik dat die koninkryk mense is, gelowiges wat die Koningskap van Jesus Christus aanvaar. Hy het gekom om ons na sy koninkryk te roep. Hy roep ons op tot ’n radikale keuse vir die koninkryk. Persone wat hierdie keuse maak, betree nie die koninkryk nie, maar is die koninkryk.
Die vyf kort gelykenisse wil vir ons leer dat die koninkryk van God op ’n manier iets is wat klein begin en baie groot word en ’n baie groot invloed het. Verder wil die gelykenisse ook leer dat die koninkryk kosbaar is en dat die besef van die waarde daarvan mense totaal opeis. Ons wil dus vanoggend op die volgende drie aspekte van die koninkryk fokus: Die koninkryk van die hemel het ’n bepaalde aantrekkingskrag; die koninkryk van die hemel het ’n veranderde effek; en die koninkryk van die hemel is kosbaar/waardevol.
Die
koninkryk van die hemel het ’n bepaalde aantrekkingskrag:
Daar word deesdae baie kritiek op Christene en die kerk gelewer. Nie al hierdie kritiek is onbillik of
onverdien nie. Dit bring soms mee dat
Christene moedeloos en moeg raak. Die
gelykenis van die suurdeeg wil nou juis gelowiges aanmoedig om die heerskappy
van Jesus in hulle lewe uit te leef en ’n verskil te maak, hoe klein dit ook al
mag wees. Die punt van hierdie gelykenis is juis dat die klein bietjie en
aanvanklike onsigbare suurdeeg, ’n groot verandering teweeggebring het. Daarom groei die koninkryk. Dit is die groot
verrassing van die koninkryk. Vir die wêreld is dit dalk klein en onsinnig,
maar God self laat die koninkryk groei en groter word en Hy betrek ons om ander
gelowiges nader te trek.
Die
koninkryk van die hemel het ’n transformerende uitwerking:
Soos die
suurdeeg het gelowiges ook ’n transformerende uitwerking op mense rondom hulle.
Die koninkryk het egter ook ’n manier om
gelowiges te verander. Iemand wat die koninkryk van die hemel verstaan, sal
alles opoffer om dit hulle eie te maak. Of jy dit gesoek het of nie, of jy dit
ontdek en of dit jou ontdek, die vreugde van die koninkryk is só groot dat dit
jou hele lewe verander. Die gelykenisse van die pêrel en die man wat op die
skat afgekom het, maak dit duidelik. As
jy die heerskappy van die Here aanvaar, verander dit jou hele lewe. Dit is nie
iets wat iemand onaangeraak laat nie. En al is ons dikwels so bewus van die
onvolledigheid en die onvolmaaktheid van die verandering in ons, neem dit nie
die wesenlike verandering wat daar wel plaasgevind het, weg nie. Want ons het tog ’n lewensrigting ontvang,
naamlik nie ons belang nie, maar God s’n?
Die
koninkryk van die hemel is kosbaar/waardevol:
Die gelykenisse van die skat in die saailand
en die pêrel dui ook op die waarde van die koninkryk. Dit is so kosbaar dat
gelowiges bereid moet wees om nou reeds volledig dissipels te wees. Die
radikaliteit van dissipelskap kom nou sterk na vore. Jesus vra volledige
toewyding, ’n bereidheid om alles op te offer. Die Bybel maak dit baie duidelik
dat daar nie plek vir middelmatigheid in die koninkryk is nie. Maar dit beteken nie dit is net die
grootstes, die suksesvolstes, hulle wie se name opgeneem is in die Wie’s Wie van die geloof wat hier vir ons iets kan leer nie. Nee, ek ken eenvoudige mense, nietige mense,
wie se lewe duidelik van geloof en toewyding en die heerskappy van die Here
spreek.
Die
koninkryk is vir nou, nie net vir eendag nie:
As iemand
meen die koninkryk van die hemel is net iets vir die toekoms, dan breek hierdie
tekste nuwe moontlikhede oop. God is nou besig om die koninkryk te laat
realiseer en gebruik koninkryksburgers in die proses. Ten spyte van weerstand,
agterdog, mislukkings, ongeloof en vyandigheid kan gelowiges seker wees dat die
koninkryk van die hemel reeds gekom het
Ten
slotte:
Dit is
verleidelik maklik om vanoggend te fokus
op voorbeelde van groot en bekende gelowige mense soos moeder Theresa en Beyers
Naudé en Billy Graham. Dit is voor die handliggend om voorbeelde van
groot saamtrekke waar duisende gered word en waar wonderlik dinge gebeur, te noem. Maar dit sou ons blind maak vir miskien die
sigbaarste tekens van die koninkryk, van
God se heerskappy in mense se lewe. Ek
wil eerder fokus op die klein tekens wat net so groot is. Ek dink aan ’n vrou wat ek nie baie in die
kerk sien nie, ’n vrou met voorbeeldige kinders wat sê: Nee
dominee, die verhouding met my man was van die begin af maar ongelukkig. Maar ek het by hom gebly, al die jare. Want ek is oortuig dit is wat die Here wou hê
ek moet doen. Want wat sou ook van hom
geword het sonder my? Ek dink ook
aan iemand wat dit self nie breed het nie en wat R100 bring vir die truie wat
ons vir die kinders wat sopkombuis toe kom, wil gee. Dit lyk vir my soos die heerskappy van die
Here in mense se lewe, van die verandering wat die koninkryk bring.
Die Here wat sê dat die eerstes laaste sal wees en dat ons klein moet word, Hy sien wat ons soms nie sien nie.
| < Vorige |
|---|






