Teks:  Markus 12:38 – 44

 

Die arm weduwee:  Om met die regte prioriteite te leef

ʼn Mens se karakter, daardie konstante manier van doen en nie doen nie, word geopenbaar deur die lewensbeginsels waarvolgens jy leef – anders gesê, deur die prioriteite wat jy vir jouself stel.

Ons teks handel oor ’n vrou wie se lewensbeginsels baie duidelik geopenbaar word deur die keuse wat sy maak as sy haar dankoffer in die offergawekis in die tempel gooi.  Ons sien baie duidelik wat vir haar belangriker as ander minder belangrike dinge was.  En daarin lê daar miskien ’n baie belangrike lewensles vir ons opgesluit.

1.      Die Skrifgeleerdes en die weduwee

In verse 38 -  40 waarsku Jesus teen die skrifgeleerdes, leiers op godsdienstige gebied.  Hulle hou van swier en aansien, maar toon terselfdertyd dat hulle ’n gebrek aan genade vir die magteloses het.  ’n Weduwee was juis ’n goeie voorbeeld van magteloosheid omdat, soos met die wese en die vreemdelinge, hulle nie toegang tot die lang gehad het nie, en daarmee nie in die land se opbrengs kon deel nie.  Daarom was hulle weerloos en kon hulle maklik uitgebuit word.

Die tweede deel van die Skriflesing, verse 41 – 44, vertel van die arm weduwee wat twee muntstukkies in die offergawekis kom gooi.  Haar dankoffer staan in skerp kontras met die dankoffers wat baie ryk mense gegee het.  Dat dit hier nie oor geld gaan nie, is duidelik as Jesus sy dissipels naderroepe en sê:  Dit verseker ek julle:  Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het.  Die rede hiervoor lê daarin  dat hierdie vrou alles wat sy gehad het, gegee het.  Al het van die rykes hoeveel gegee, het hulle ook nog baie gehad wat hulle nie gegee het nie.  Hierdie vrou se lewensbeginsel waarvolgens sy leef, word duidelik geopenbaar.  Vir haar is die Heer die Een vir sy alles gee, vir sy haarself sonder enige reserwe, gee.

Dit word soveel meer aangrypend as ’n mens besef dat sy haar offer aan ’n sisteem toevertrou, die georganiseerde tempeldiens, wat juis magtelose mense soos sy uitbuit!  Weet sy dit dan nie?!  Is sy arm én dom?  Ek kan aan ’n klomp mense dink, myself ingesluit, wat doodgewoon sou sê ek gee geen dankoffer aan so ’n instansie nie.  ’n Mens kan maklik verlei word om die voorstelling by jouself te hê van ’n arme, patetiese vroutjie in verslete klere wat skuifelend, onseker, na die offergawekis beweeg om haar skaam-skaam nietige offer te bring.  Maar dan sou jy meer in die teks lees as wat daar staan.  Hierdie vrou was ’n weduwee, sy was dus een van die groep wat nie toegang tot die grond se opbrengs gehad het nie, sy was weerloos.  Maar dit kan wees dat sy met haar vaste oortuiging van die plek wat die Here in haar lewe inneem, met waardigheid na die offergawekis toe stap omdat sy so oortuig is van dit wat sy is en wat sy doen!  Hierdie vrou het dit heel moontlik met haarself uitgemaak dat haar verhouding met die Here hierdie offer van haar vra, ongeag wat die instansie aan wie sy dit gee, is en doen!  Sy gee haar alles, al palm die magtiges die weerlose weduwees se huise in.

2.      ’n Onvolmaakte kerk

Daar is mense wat hulle rug op die kerk draai as gevolg van die optrede van leiers in die kerk – kerkraad, predikante.  Of miskien besluite wat in die kerk geneem is of beleid wat geformuleer is.  Daar is heel  moontlik heelwat geldige redes aan te voer hoekom ’n mens jou dankoffer kan weerhou, of kan ophou om die eredienste by te woon, of om doodgewoon net op te hou deel wees van die gemeente.  Hierdie vrou in die teks het blykbaar genoeg rede gehad.  Maar sy doen dit nie.  Diegene in die kerk wat vir ander ’n struikelblok kan wees, moet ook weet dat hulle daarvoor verantwoordelikheid sal moet aanvaar.

Maar hierdie vrou laat nie toe dat die situasie waarin sy haar bevind, haar lewensbeginsels, haar prioriteite, bepaal of voorskryf nie.  Sy reageer nie op die omstandighede nie.  Ongeag die omstandighede, bly sy getrou aan die beginsels wat sy vir haar lewe gekies het.  En dit is ’n baie belangrike ding om in jou lewe te doen.  Jy behoort ’n baie duidelike verstaan van wie jy is en hoe jy maak te hê.  En hierdie konstante kern van optrede behoort nie bepaal te word deur die situasie nie.  Byvoorbeeld:  As my lewensbeginsels inhou dat ek nie ander mense se goed vat nie, dan sal ek dit nie doen al is ek ’n situasie waarin ek dit kan doen sonder om uitgevang te word.  Omstandighede behoort my nie te verlei om anders op te tree as wat ek wil optree nie, as wat my waardes en my prioriteite inhou nie.

 

3.      Paulus se voorbeeld

Paulus is hier nogal ’n belangrike voorbeeld.  In Filippense 3:13 sê hy ’n belangrike ding.  Hy sê:  Maar een ding doen ek ...  Hy het te midde van die situasies waarin hy hom bevind en die keuses wat hy moes maak, ’n duidelike verstaan van wat belangrik was en wat minder belangrik in sy lewe was, gehad.  So helder dat hy kon sê dat daar een, duidelike beginsel was wat sy lewe bepaal het.  Dit is ook in ons eie lewe belangrik.  Ek behoort ook te kan sê:  Een ding doen ek, dit is ek ...  En as die oorkoepelende beginsel van my lewe is om die Here te dien, dan lewe ek daarvolgens.  Soos wat die weduwee gedoen het.  Dan doen ek soos my beginsel bepaal, sonder om my te laat weglei deur dit wat ander mense doen.   ’n Helder verstaan van ’n enkele, oorkoepelende prioriteit, is baie belangrik in die lewe.  Die lewe is te kompleks om met lang lyste prioriteite te lewe.  Paulus het geweet van een sentrale ding wat sy lewe bepaal het, en sy prioriteite het uit hierdie sentrale fokus gegroei.

 

4.      ’n Kritiese kyk na myself

Ek moet krities na my eie lewe, na my beginsels, na my prioriteite, na my keuses kyk.  Want die gevaar van selfregverdiging is baie groot.  Dit is maklik om raak te sien dat ander se karakter blootgelê word deur hulle lewe, maar vir myself en my eie lewe is ek dikwels blind.  Daarom is dit genade as die Here ’n onrustigheid oor jouself gee en vir jou ’n helder insig in jou eie manier van wees en doen, gee.  En dit is nie altyd lekker nie.  Dit behoort nie altyd aangenaam te wees nie.  Maar dit is die punt waar ’n nuwe groei in jou lewe kan begin, ’n nuwe groei in jou oorgawe aan die Here kan begin, ’n nuwe groei in die verstaan van sy wil vir jou lewe kan begin.

 

Jesus vertel ’n storie van ’n man wie se belangrikste prioriteite hyself en sy besittings was, die storie van die sogenaamde Ryk Dwaas.  Met hierdie storie waarsku Jesus nie net teen die gevaar van hebsug of geldgierigheid nie.  Hy wys veral op die futiliteit van prioriteite wat nie ooreenstem met God se wil vir jou lewe nie.  Die man in die gelykenis se prioriteite is duidelik – persoonlike rykdom en ’n toekoms waarin hy goed versorg sal wees.  Maar hierdie ryk dwaas begin met die verkeerde motiewe en slaag nie daarin om een van hierdie doelwitte te verwesenlik nie.  Hy is dood voordat hy sy besigheid kon uitbrei of sy aftrede kon geniet.  Jesus maak dan hierdie gelykenis van toepassing op almal wie se prioriteite openbaar dat hulle harte by hulle eie belang in plaas van by God gelê het.  Ons lewe behoort God te verheerlik en nie op onsself gerig te wees nie.  Ons sou dus kon vra of ons belangrikste prioriteite tot die erkenning van God sal lei.  Indien wel, dan sal ons ryk in God se oë wees.

 

Wat doen die Here se Woord vanoggend in ons?  Maak dit jou onrustig en wil jy jou voorneem om in die toekoms harder te probeer om dit of dat te doen?

 

Dink eerder aan nog ’n gawe wat ook meer werd is as enige ander gawe.  Dink aan die offer wat daar reeds vir jou en vir my gebring is.  Die offer van ’n lewe aan die kruis.  Daar lê die moontlikheid van ’n daaglikse nuwe begin in ’n nuwe verhouding met Christus.  Laat dit jou oorkoepelende, bepalende riglyn vir jou lewe wees.  Gee jouself uit dankbaarheid as ’n lewende offer aan Hom ...

 

Amen

AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar