Teks: Kolossense 1:1-14

11 Julie 2010

Ons vaste fondament laat ons die Vrugte dra

Ek en Sandra het die afgelope vakansie 'n ervaring gehad wat ons nog nooit vantevore gehad het nie. Ons het ook besluit om dit maar liewer vir onsself te hou omdat niemand ons sou glo nie. Ons het een aand so om en by 11 uur by ons hotel teruggekom na aandete. Omdat dit so warm was, het ons so 'n bietjie op die balkon gaan sit en oor die stad uitgekyk. Ek het 'n helikopter gesien wat al hoe nader aan ons gevlieg het. Toe dit al heel naby was, ek het vir Sandra gesê dat dit vreemd was dat ons geen geluid hoor nie. Sy het toe ook begin om die lig dop te hou. Dit het nog nader gekom, steeds geluidloos. Daar was 'n helder vierkantige lig aan die voorkant, dit het soos 'n helder verligte venster gelyk, aan die agterkant was 'n vae, onverligte deel. Terwyl ons nog daarna kyk, het dit vinnig al hoe kleiner geword, asof dit vinnig van ons af weg gaan. Toe het dit sywaarts begin beweeg. Ons het dit dopgehou totdat dit later in die verte verdwyn het.

Ek gebruik hierdie storie as voorbeeld van iets wat met 'n mens gebeur wat jou verander. Ek was maar nog altyd baie skepties as ek stories hoor van die vreemde, onverklaarbare dinge wat mense sien. Maar ons het geen ander verklaring vir wat ons gesien het nie. Ons glo nogal ons het 'n VVV gesien, al is ander hoe skepties daaroor!

Ek het gedink dat dit met ons geloof ook so werk. Die geloof in God is 'n ervaring wat 'n mens verander. Al het iemand anders nie dieselfde oortuiging as jy nie, jy weet wat vir jou waar is.

Maar daar is een belangrike verskil tussen ons ervaring met die VVV en ons geloof in God. Die VVV-ervaring is geheel en al subjektief. Met die geloof is dit heeltemal ander. Dit is belangrik om in ons teks die objektiewe karakter van ons verlossing raak te sien. Ons verlossing is nie gegrond in onsself nie. Dit is nie ons geloof en ons bekeringservarings wat die grond van ons redding is nie, dit is God wat die verlossing uit genade vir ons gee. Die heil, die verlossing het dus 'n objektiewe karakter. Dit is gegrond in wat God doen en gedoen het.

Dit val 'n mens in die brief aan die Kolossense op dat Paulus so baie klem lê op die gebruik van die verlede tyd. Daarmee beklemtoon hy wat reeds van ons as gelowiges waar is. Hy sê:

  • God het julle geskik gemaak om deel te hê aan die erfenis ... (1:12)
  • Nou het Hy julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het om julle heilig voor Hom te stel ... (1:22)
  • Deur julle verbondenheid met Hom (Christus), is julle ook saam met Hom opgewek ... (2:12)
  • Julle was dood ... God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. (2:13)
  • Julle is saam met Christus uit die dood opgewek ... (3:1)

Dit is duidelik. Paulus lê groot klem op dit wat reeds van die gelowiges waar is, dit wat God reeds vir en aan ons gedoen het. Hierdie gedagte word mooi saamgevat in 1:13-14, wat eintlik die kern van die hele brief uitmaak:

Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

Dit is die goeie nuus van die evangelie. Die Here het ons verlos. Ons word nie deur ons eie inspanning en ons eie bydrae verlos nie. Die verlossing is die Here se werk. Ons kan God maar net op sy woord neem en dit wat Hy sê reeds van ons geld, vir onsself toeëien. Luther kon sê dat geloof nie net sê: Christus het gely, Hy het gesterwe, Hy is opgewek, nie. Geloof is om te sê: Ek het gely, Ek het gesterwe, Ek is opgewek, ons het gely, ons het gesterwe, ons is opgewek. Dit is geloof. Geloof is om aangaande jouself te verklaar dat wat Christus vir jou gedoen het, rééds van jou waar is! Geloof is om weg te kyk van jouself af na wat buite om jou, sonder jou aandeel, in Christus met jou gebeur het, om daaraan vas te hou, daarvolgens oor jouself en jou geloof te dink en van jouself te dat dit - deur God se genade - ook vir jou geld!

Hierdie wete verander ons. Dit kan nie anders nie. Dit moet 'n dankbaarheid bring wat lei tot 'n oorgawe aan God wat uit genade verlos. Daarom bid Paulus vir die gemeente in Kolosse soos ons vanaf vers 9 sien. 'n Mens is nie maar net 'n Christen en klaar nie. Dit is 'n proses waarin jy in die praktyk van die lewe elke dag meer moet word wat jy reeds is! Daarom kan Paulus in 3:10 sê: Julle ... leef nou die lewe van die nuwe mens wat al hoe meer vernuwe word ...

Die evangelie moet al hoe meer die beheer oor ons lewe kry sodat ons al hoe meer vrugte dra. Christus moet ons denke, woorde, dade, alles, beheer. Dit sou 'n misverstand wees as ons sou dink dat noudat ons Christene is, ons nie meer blootgestel is aan die kritiek van die Woord van God nie. Dit sou 'n misverstand wees as ons dink dat ons met die lig van God se Woord, nie meer krities na onsself moet kyk. Ons kan slegs groei as ons onsself krities die vraag waar ons Christus nog nie voldoende uitleef as die Heer van ons lewe nie.

Volgens Paulus se gebed is wysheid nodig vir geestelike groei. Hy bid: Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang (1:9b). 'n Mens groei dus in die geloof wanneer die Heilige Gees jou lei tot dieper wysheid, kennis en insig in wat God verlang. Wysheid is vir Paulus 'n belangrike begrip in hierdie brief. Hy beklemtoon telkens dat wysheid, kennis en insig nodig is om tot volwassenheid in die geloof te groei.

Hulle het hierdie wysheid nodig sodat hulle nie deur die dwaalleringe verlei word nie. Daar was dwaalleraars wat oor die geloof dinge te sê gehad het wat so goed geklink het maar nie die evangelie was nie. Wysheid is om Hom as die enigste Heer van jou lewe te gehoorsaam en nie om nog allerhande teorieë en ook nog, naas Christus, aan te hang nie. Paulus bid dat die gemeente die onderskeidingsvermoë sal ontvang om helder te verstaan wat die implikasies daarvan is dat Christus hulle Heer, hulle Besitter, is. Dit is hoekom hy in die vorige gedeelte begin het deur weer 'n keer te sê wat reeds van hulle waar is.

Wysheid is om prakties tot eer van God te leef, om te doen wat Hy verlang, om tussen goed en kwaad te kan onderskei en dan die goeie te doen. Wysheid is om prakties die implikasies te verstaan van jou belydenis dat Christus jou Heer is, dat Hy jou verlos het, dat Hy jou 'n nuwe mens gemaak het.

Paulus bid dringend om wysheid en onderskeidingsvermoë. Ons moet dit ook doen sodat ons ons eie lewe kan beoordeel, sodat ons daagliks meer en meer dit wat God van ons verwag, prakties kan uitleef.

Kom ons vra nou hierdie wysheid van die Here.

Amen

 

AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar