Geskryf deur Deon
|
20 September 2010
Posted in
Preke -
Deon Binneman
Informele diens 19 September 2010
Om geestelik te onderskei in 'n wêreld waar God se Woord prakties uitgeleef moet word
Vir die kinders
Teks: Matteus 21:28 – 31 in Die Boodskap
Daar was eendag ʼn pa met twee seuns. Op ʼn dag het hy vir sy een seun gevra om al die blare wat van die bome afgeval het, bymekaar te hark. Die seun het gesê hy wil dit nie doen nie, want hy wil eerder televisie kyk. Maar toe sy pa weg is en hy daaroor dink dat sy pa hom gevra het om te help, en hy nie daarvoor lus was nie, het hy skaam gekry en besluit om dit tog maar te doen. Hy het toe gegaan en al die blare mooi bymekaar gehark.
Toe die eerste seun vir sy pa gesê het hy wil nie die blare gaan ophark nie, het die pa vir sy ander seun gaan vra of hy nie die blare wil bymekaar maak en in ʼn swart sak gooi nie. Hy sê toe: “Ja, Pa, ek sal dit sommer nou-nou doen.” Maar toe sy pa weg is, het hy besluit om dit nie te doen nie.
Watter een van die seuns dink julle het sy pa se hart bly gemaak? Watter een het gedoen wat sy pa gevra het?
Ja, natuurlik die eerste seun. Ons lees presies net so ʼn storie in die Bybel. (Lees die teks.)
Ons weet dat as Jesus so ʼn storie, of gelykenis vertel, Hy eintlik daarmee vir ons iets wil leer oor hoe ons moet maak as ons gehoorsaam aan die Here wil leef. Jesus wil met hierdie storie vir ons leer dat ons nie net die regte goed moet sê nie. Dit is baie belangriker om die regte dinge te doen.
Julle kan nou elkeen ʼn prent van die twee seuns kry om in te kleur terwyl ons gou nog ʼn bietjie verder gaan praat oor die regte dinge wat ons moet doen.
Voordat ons die 2 Konings 22 teks lees, kom ons kyk weer na hierdie gelykenis. Ek wonder nogal hoekom daar nie ʼn derde seun is nie, ʼn seun wat sê hy sal dit doen èn wat dit dan gaan doen! Miskien omdat dit nie te tekenend van die gelowige mense is nie! Dit is net te goed om waar te wees! Daar is miskien net nie sulke goeie mense op aarde nie!
In die gelykenis handel dit oor ʼn pa en sy twee seuns. Hulle is altwee sy kinders. Ons word nie kinders van God as ons goed genoeg, of gehoorsaam genoeg is nie. Ons is reeds sy kinders as ons in Hom glo. Netsoos ʼn mens van die twee seuns in die gelykenis verwag om hulle liefde vir hulle pa uit te leef deur hom te help en te doen wat hy vra, netso word van ons wat reeds sy kinders is, verwag om ons dankbaarheid, ons liefde vir God uit te leef deur gehoorsaam aan Hom te wees.
Lees 2 Konings 22.
Die Bybel word herontdek
In die Joernaal wat u vanoggend gekry het, word die aanloop tot hierdie gebeure verduidelik. In ʼn polities baie onseker tyd waar daar telkens na die goeie ou tyd wat al lankal verby was, teruggegryp is, word die tempel wat vervalle geraak het omdat die Assiriërs die aanbidding van hulle gode in Juda bevorder het, nou weer herstel. Dit was meer ʼn politieke skuif as ʼn godsdienstige een. En in die tempel kry hulle die wetboek, die Woord van die Here. En dan volg daar ʼn verrassende verloop van gebeure. Die koning, Josia, kom so onder die indruk van wat daar in die Bybel staan, dat hy dit van toepassing op hulle geskiedenis maak en besef dat hulle voorvaders ongehoorsaam aan God was.
Hy stuur dan ʼn afvaardiging na die profetes Gulda toe en sy praat soos die Here haar lei. Haar boodskap is dat die ongehoorsames gestraf sal word, maar dat Josia al die swaar en slegte dinge wat oor die volk gaan kom, sal vryspring omdat hy sensitief vir die Here se Woord was. Sy sê: “Die Here sê Josia is in sy hart geraak deur die woorde wat hy in die Bybel gelees het, en hy het berou gehad oor die verkeerde dinge wat hulle as volk gedoen het.”
Josia laat hom deur die Woord aanspreek
Josia kon natuurlik ook anders gedoen het. Hy kon gekies het om sy voorgeslagte se optrede te verdedig. Hy sou die Bybel weer kon toesluit, hy sou vir Gulda om die lewe kon laat bring omdat sy vertel dat die Here vir die volk kwaad is en dat hy onheil oor die volk gaan laat kom. Hy sou geleerdes kon kry wat ʼn ander interpretasie as Gulda kon voorhou.
Maar Josia laat hom deur die Here se Woord beïnvloed. Hy laat die Here toe om met hom te praat op ʼn manier wat teen die waarheid soos hy dit op daardie stadium gehad het, ingaan. Hy laat toe dat die Woord van God hom verander.
Bewus van ons interpretasies
Dit is, dink ek, baie moeilik om te doen wat Josia gedoen het. Ons interpreteer elkeen alles wat deur ons sintuie tot ons kom, ook dit wat ons lees en hoor oor God en oor sy Woord en sy verwagting van ons. ʼn Mens kan dit met ʼn bril met gekleurde lense vergelyk. As ek ʼn bril met gekleurde lense op het, dan word alles wat ek sien deur daardie lense gekleur. En ek kom dit later nie meer agter nie. Netso is ek blind vir die filters waardeur ek God se Woord hoor. Dit maak dat sy Woord my net nie genoegsaam aanspreek en my omkeer en ek daardeur verander word nie.
Daarom wil ek jou vanoggend vra, soos wat ek ook in die Joernaal doen, probeer bewus raak van die bril van interpretasie waarmee jy vir God en sy Woord benader. Sou jy bereid wees om oor ʼn kwessie waaroor jy baie sterk voel, ʼn totaal ander standpunt in te neem as jy oortuig word dat dit die Here se wil is? Is jy bereid om met ʼn oop gemoed na iemand te luister wie se verstaan van God baie van joune verskil? Die luister na die ander ontmasker dikwels my eie filters. Daarom is dit goed om by geleentheid ook na stemme te luister wat baie anders is as joune en as die stemme van ander mense wat soos jy dink.
Die Bewegings van die Gees
Kom ons raak prakties. Hoe weet ek wat die Here se wil is? In sommige gevalle is dit maklik, in ander gevalle weer so baie, baie moeilik. Indien sommige van u nog nie kennis geneem het nie van wat die Bewegings van die Gees genoem word, sal ek ter afsluiting so iets daaroor vertel. Al weet ons nie altyd baie duidelik presies wat die Here in sekere konkrete situasies vir ons sê of verwag ons moet doen nie, beteken dit nie dat ons niks van die Here weet nie. Indien ons na fasette van die Here se werking deur die Heilige Gees kyk, waaoroor ons nie veel onduidelikheid het nie, dan raak ons bewus van wat genoem kan word Bewegings van die Gees.
Dit kom daarop neer dat ek in my nadenke oor wat ek moet doen, daarmee moet rekening hou dat Heilige Gees se wil en leiding byvoorbeeld in die rigting van deursigtigheid in plaas geheimsinnigheid sal lê, of anders gestel, in die beweging van leuen na waarheid sal wees. Ek gaan bedink dus die situasie en soek die Here se leiding vanuit hierdie perspektief.
Maar daar is ook verskeie ander sulke fasette of bewegings. Ek noem hulle en plaas dit op die skerm. Die Heilige Gees sal ons altyd wil beweeg van:
- Vrees na vertroue
- Skaamte na bevestiging
- Magteloosheid na bevryding (Van swakheid na krag)
- Isolasie of vyandskap na gemeenskap
- Van selfgerigtheid na liefde
- Van leuen na waarheid (Geheimsinnigheid na deursigtigheid)
- Van ingewikkeldheid na eenvoud
- Van moedeloosheid na geloof en hoop
- Van ʼn selfgerigte lewe na ʼn roepingsgerigte lewe
Die bewuswording van hierdie bewegings van die Gees het vir my persoonlik al baie beteken om die wil van die Here agter te kom in my lewe. Wanneer ek met mense hieroor praat, ervaar ek dikwels dat dit vir hulle ook van groot waarde is. Kom, gebruik dit om sensitief te raak vir dit wat die Here van jou vra. En waag dit om aan die Here meer gehoorsaam te raak, dit is die enigste pad na geluk en vervulling.
Amen
| < Vorige | Volgende > |
|---|






