Geskryf deur Deon
|
21 November 2010
Posted in
Preke -
Deon Binneman
Leef Gasvry: Gaan vertel ...
Lukas 24:13-35 en 2 Kor 3:1-3
Deon Binneman
21 November 2010
Ek onthou hoe in die narratiewe terapie-opleiding ons geleer is om refleksiewe vrae te vra – dit is vrae wat jou in jou nadenke laat inbuig na jouself toe. Dit is ʼn vraag soos: Wat doen dit aan jou as ... Die soort vraag laat jou dink aan dit wat ʼn situasie of iemand anders aan jou doen.
Maar daar is ook ʼn anders soort refleksiewe vraag. Jy sou ook kan vra: Wat dink jy doen dit aan ander (of aan die situasie) as jy sus of so maak. Wat doen jou doen aan ander? Hierdie vraag laat ʼn mens krities na jou eie optrede en die effek daarvan kyk. Die konsep ubuntu beteken: Ek is wat ek is vanweë wat ons almal is. Maar dit is nie wat die vraag Wat doen my doen aan ander, in die oog het nie. Wat doen my doen aan ander, hou in dat ons mekaar maak. Ek is wat ek is omdat ander dit van my maak.
Dit is dieselfde gedagte wat ons in 2 Korintiërs 3 kry. Paulus het nie formele geloofsbriewe, of aanbevelingsbriewe soos sommige ander mense nie. Dan sê hy egter dié mense wat tot die geloof gekom het, is eintlik sy aanbevelingsbriewe is. Dit wat hy vertel het, het hulle lewe verander. Daarom het hy nie eintlik ʼn geloofsbrief nodig nie. Hulle wat tot geloof gekom het na aanleiding van sy verkondiging, hulle veranderde lewens is genoeg bewys van die legitimiteit van Paulus se apostelskap.
Die belang daarvan dat mense pratende wesens is, word soms uit die oog verloor. Mense leef van gesels, van luister en praat, van hoor en wonder, uitvra en saamdink – van menings wissel, ander se sienings hoor, saampraat ... (Robert Vosloo, Engele as Gaste, 7). Maar die interessante is dat ons nie net vertel hoe die werklikheid is nie, maar dat ons juis die werklikheid skep soos ons daarvan praat. Hoe ons vertel, bepaal hoe dit uiteindelik vir ons gaan wees.
Ook in ons geloofslewe is woorde belangrik. Woorde skep ook ons geloof en die uitleef daarvan. Dit word vir my mooi gesê in die verhaal van die twee mense van Emmaus en hulle ontmoeting met Jesus. Daar word gesê:
Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?
Woorde kan ons harte warm maak. Woorde kan ons beweeg, woorde kan ons inspireer, woorde kan mense en situasies verander. Dink maar aan Martin Luther King se I have a dream-toespraak en die invloed daarvan op die rassesituasie in die VSA. Ek dink ook aan 95 stellings oor die geloof wat Martin Luther op ʼn dag teen ʼn kerkdeur vasgespyker het wat gely het tot die beweging wat as die reformasie bekendstaan.
Dink vir ʼn oomblik aan voorbeelde waar ander se woorde jou positief of negatief geraak het – jou gemaak het of gebreek het. Mense wroeg dikwels as volwassenes nog met dit wat vir en van hulle gesê is as kinders wat hulle lewe ingrypend geraak het en verander het. In die terapie moet daar dikwels by sulke dinge stilgestaan word en moet daar dikwels ʼn ander belang aan so ʼn gebeurtenis toegeken word. Ons maak mekaar. Dat ons samelewing nie stukkender is as wat die geval tans is nie, is alleen aan die Heer se genade toe te skryf. Wat moes dit nie aan mense gedoen het toe hulle nie op dieselfde bank in die park as ander mag sit nie, of in die poskantoor in dieselfde ry as die ander hulle posseëls kon koop nie.
Maar dank die Here, dit werk nie net so dat ons mekaar breek nie, ons maak ook mekaar. Dink vir ʼn oomblik aan woorde van iemand anders wat jy soos ʼn kosbare skat in jou hart onthou omdat dit vir jou soveel beteken het. Dink wat beteken die woorde: Ek het jou lief, of Dankie, wat jy gedoen het was vir my goed, nie vir ʼn mens nie.
Maar van veel meer waarde is wat mense vir ons beteken deur wat hulle vir ons doen. Paulus skryf dat gelowiges hulle uit die heidendom bekeer het na aanleiding van wat daar aan hulle gesê en gedoen is. Die effek wat my doen op ander se lewe het, is nie in my hande nie. Paulus weet dit ook, daarom sê hy:
Dit is tog duidelik dat julle ʼn brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God ... (2 Kor 3:3).
Ons woorde kry juis waarde as dit deur ons optrede gedra en ondersteun word. Ons glo net nie iemand se woorde as sy of haar dade anders praat nie. Wat help dit ek sê vir my vrou ek het haar lief as sy nie in my optrede sien dat sy vir my belangrik is nie?
Ons praat in hierdie kwartaal oor gasvryheid. Daarmee word bedoel dat jy jouself oopstel vir ander se andersheid en om die verskille en die verskeidenheid op ʼn vriendelik manier te akkommodeer en selfs te vier. Om gasvry te wees beteken om te deel, om nie net jou goed en jou tyd met ander te deel nie, maar om jouself te gee. Om ongasvry te wees beteken om grense te stel, mure te bou, uit te sluit, af te skerm. Om gasvry te wees in vandag se konteks beteken om jou geloof te deel, om te vertel van die Here wat jy dien en van wat Hy vir jou doen en beteken. In ander woorde gestel: om oor God te getuig. En let wel, om suksesvol ander se harte warm te laat word, is dade van die allergrootste belang. En in die konteks van 2 Korintiërs, is dit dade wat van jou weerloosheid spreek. Paulus praat o.a. in 2 Kor 12 van ons wat juis sterk is as ons swak is, dat die Here se krag juis sigbaar word wanneer ons swak is.
Ek sê vanoggend dankie dat so baie van julle die afgelope vyf en ʼn half jaar my lewe verryk het. Julle het iets vir my en aan my gedoen waarvoor ek baie dankbaar is. As die Here dit ook andersom wil, dat my bly by julle vir julle iets goeds kon beteken, dan dank ek die Here vir sy groot genade.
Amen
| Volgende > |
|---|






