|
22 November 2011
Posted in
Kleingroepe -
Huisgodsdiens
Rus
- Dink terug oor jul lees van die Psalms hierdie kwartaal - wat het julle geleer?
- Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.
Hoor
Lees Psalm 41:2-4 uit Die Bybel vir Almal:
Dit gaan goed met die persoon wat bekommerd is oor ‘n arm mens. Die Here sal so ‘n persoon red wanneer dit sleg gaan. Die Here sal sulke mense beskerm en hulle laat aanhou lewe, die Here sal hulle gelukkige mense maak in hierdie land. U sal hulle nie vir hul vyande gee sodat die vyande met hulle kan doen wat hulle wil nie. Die Here sal hulle help wanneer hulle siek is en God sal hulle weer gesond laat word.
- Gesels oor die Psalm (ouers kan ook kyk na die inligting in die kleingroepmateriaal). Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die Psalm - wat sê dit vir julle?
- Vertel vir mekaar hoe en/of waar julle al beleef het dat die Here julle beskerm.
Leef
- Wat vra God nou van julle? Vertel vir mekaar wat julle gaan doen in reaksie op die Psalm.
- Die Psalm sê “dit gaan goed met die persoon wat bekommerd is oor ‘n arm mens”. Wie is die arm mense oor wie julle bekommerd is? Hoe kan julle hulle help? Julle kan bv. geskenke koop vir die kinders van Maranatha - vat ‘n kaartjie van die kersboom in die kerkgebou se voorportaal. Julle kan ook lekkernye skenk vir die Kerspartytjie by Barcelona in Helenvale. Of blikkieskos en toiletware vir die CMR. (Kyk elders in die afkondigings vir meer inligting.)
- Gaan deur jul gebedslys - is van jul gebede al beantwoord? Sê dan dankie! Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid - onthou om veral vir armes te bid. Bid saam vir mekaar en die ander dinge op jul lys.
| < Vorige | Volgende > |
|---|






