|
17 April 2011
Posted in
Kleingroepe -
Materiaal
Johannes 1:1-18
- Begin met die vraag: “Wat het met jou gebeur sedert ons laas bymekaar was ....”?
- Laat elkeen sy storie vertel . So bou ons aan ons vriendskap met mekaar.
RUS
- God nooi ons uit om tot rus te kom voor Hom. Dit is die Heilige Week. Ons herdenk die lyding van Jesus wat tot ons verlossing op Paassondag gelei het. Gee geleentheid vir elkeen om in stilte na te dink oor wat Jesus se lyding nou vir hom of haar beteken. Open met gebed en dra julle kwartaal se byeenkomste aan die Here op.
- Woon die kerk se uitbeelding van die stasies van Jesus se lyding, miskien as groep, by.
HOOR
- Ons fokus in die volgende 6 weke tot en met Pinkster op die evangelie van Johannes. Bybelstudiegroepe werk ‘n week vooruit met die fokusteks vir die Sondag se prediking. Die Bybelskool werk die hele evangelie Johannes deur. In die res van die kwartaal werk ons met die Leesrooster se tekste.
- Lees Johannes 1:1-18 en laat elkeen ‘n paar minute neem om na te dink oor wat hulle in die teks tref.
- Deel met mekaar wat julle tref, sonder om mekaar te onderbreek of te korrigeer.
- Lees die volgende inset en bespreek dit met mekaar:
Johannes begin nie by Jesus se geboorte of ’n geslagsregister ( Matteus) of die skepping (Lukas) nie. Hy begin by God se tyd, die ewigheid, voordat alles gemaak is, voordat daar selfs iets soos ons tyd was. Jesus is die Woord (logos) van God, nie net goddelik nie, maar Godself (1 Joh 1:1; Open 19:13)! Uit Hom is alles gemaak, want Hy was die lewe van alles (Kol 1:16). En dit skyn soos ’n lig in die duisternis wat ons lewens verlig (Joh 5:26; vgl ook Spr 6:23 – “die tôrâ is ’n lig”). Let egter op hoe Johannes onmiddellik die realiteit skets van die reaksie van die duisternis op die lig. Die vreugde van kindskap word getemper met die wete dat die duisternis die lig verwerp en wil uitdoof, al kry die duisternis dit nie reg nie.
Jesus se menswording word met twee woorde beskrywe: Hy het sarks (vlees) geword en eskênôsen (tent opgeslaan – die woord roep ook die tabernakel in die woestyn in herinnering) onder ons. Dit beteken dat Hy volledig mens geword het, ons sondige vlees aangetrek het, en ’n menslike bestaan aanvaar het. En let op dat dit iets is wat van hierdie punt af deel van Sy goddelike bestaan geword het. Dit is nie iets wat Hy ooit weer gaan uittrek nie. Hy IS nou ook mens. Die wonder is dat ons nou die heerlikheid van God kan sien in ’n gewone mens. En ons sien spesifiek sy genade en sy waarheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het. Sy genade loop oor in die tekens van voorsiening (water in wyn, vermeerdering van brood) en verwondering (loop op water); genesing (siek seun, siek man, en blinde man) en oorwinning (opwekking uit die dood). Dit nooi ons uit om Hom te vertrou vir ons lewe. Sy waarheid word ervaar in ’n verhouding met God, iets wat die wet van Moses nooit volledig kon gee nie. Ons kan God in Jesus raaksien – iets wat Moses begeer het, maar nooit voluit kon beleef nie (vgl 1 Kor 3).
LEEF
- Wat beteken dié teks vir ons gemeente en ons gemeenskap vandag?
- Wat vra dit van julle groep – en wat vra dit van jou persoonlik?
- Antwoord die Here in gebed.
- Volgende week behandel ons Johannes 6: “Ek is die brood wat lewe gee”.
- Registreer by www.bybelskool.com om die dagstukkies van die Bybelskool per e-pos te ontvang.
- Ek sal graag julle kommentaar en vrae by www.bybelskool.com wil hoor. Of kontak my by
of 0825749191. Chris van Wyk
| < Vorige | Volgende > |
|---|






