|
12 Januarie 2012
Posted in
Kleingroepe -
Materiaal
Kleingroepmateriaal
Week van 15-21 Januarie 2012
Ons werk hierdie kwartaal met die brief van Paulus aan die Filippense. Ons lees dit in die volgende 9 weke deur. Jy kan ook by die Bybelskool aansluit Woensdae 18:30 en nog 6 ander van Paulus se briewe hierdie kwartaal saam met ons deurlees. Registreer by www.bybelskool.com om die bydraes per e-pos te ontvang.
RUS EN ONTVANG
- Gesels met mekaar oor julle ervaring van ontwrigting en bevestiging (Hand 16 van verlede week) en wat die Here julle die week geleer het.
- Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
- Laat iemand met ‘n gebed open.
HOOR EN ONTGIN
Lees Filippense 1:1-11 – Laat julle liefde in onderskeiding toeneem
Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.
Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:
Liefdesonderskeiding
Ons praat gereeld van geloofsonderskeiding – om in geloof te onderskei wat God se wil is. Hier praat Paulus van liefdesonderskeiding, waar hy die woord liefde (agape) koppel aan die woorde betekenisvolle kennis (epignosis) en alle onderskeiding (pase aisthesis) in die oorspronklike Griekse teks, wat in die NAV met liefde, begrip en fyn aanvoeling onderskeidelik vertaal word. Die woordjie alle (onderskeiding) beteken nie soseer volledige onderskeiding nie, maar ’n breë of diep begrip van wat op die spel is. Paulus bid dus dat hulle liefde só sal toeneem, spesifiek in betekenisvolle kennis (begrip/insig/praktiese kennis) en diep onderskeiding (ervaring/fyn aanvoeling/diep begrip), dat hulle die dinge kan onderskei waarop dit regtig aankom. Hulle perspektief op wat God doen, moet dus – soos ’n dataprojektor se lens – verhelder en skerper gefokus word. So kan hulle intelligente keuses maak deur te onderskei wat God wil, gebaseer op ‘n liefde wat groei in/deur kennis en onderskeiding! En die doel daarvan is 1) persoonlik: om geheel en al in die regte verhouding met God te kom – om “the best people possible” te wees, en 2) publiek: sodat hulle manier van leef en liefhê tot God se lof en eer sal wees – om “the best choices possible” te maak.
Vertroue en verantwoordelikheid
Paulus sit dus twee konsepte reg aan die begin van die brief op die agenda: vertroue en verantwoordelikheid. Hy is oortuig daarvan dat God die goeie werk in hulle begin het, en dat Hy dit end-uit sal voer en voleindig op die dag van Christus (Fil 1:6). Sy vertrekpunt, vertroue en verwagting is dus dat die gelowiges met God se voortdurende betrokkenheid en genade (Fil 1:7) staande sal kan bly. Maar, dit sal ook nie gebeur sonder dat elke gelowige hulle verantwoordelikheid nakom nie. Daarom die klem hier op onderskeidende liefde, wat deur die brief aangevul sal word met ’n oproep tot persoonlike, en publieke gehoorsaamheid wat in ooreenstemming is met die evangelie van Christus Jesus is. Dit sal verseker dat hulle op die dag van Christus onberispelik en sonder blaam sal wees, en deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God. En sy gebed is dat hierdie proses tot God se lof en eer sal bydra, die einddoel en mikpunt van alles (Fil 1:10-11).
LEEF EN ONTPLOOI
- Hoe is die Here in jou lewe besig met ’n groeiende onderskeidende liefde?
- Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
- Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.
| < Vorige | Volgende > |
|---|






