Teks agtergrond

Matteus 13:1-9, 18-23

 

Hierdie teks is baie bekend - dalk té bekend, met die gevolg dat ons dit nie meer nuut hoor nie. Markus is die oudste evangelie.  Matteus en Lukas gebruik Markus tot ‘n groot mate as bron.  Gevolglik sal dit die moeite loon om te kyk hoe Matteus verskil van Markus, want die verskille is nie om dowe neute daar nie; Matteus wou waarskynlik iets spesifiek daarmee sê.

 

Ons moet twee kontekste in ag neem wanneer ons die teks lees: die plek waar Matteus in teks plaas en die eerste lesers, die gehoor wat Matteus in gedagte gehad het toe hy geskryf het.  Die Evangelie is vir ‘n Joodse gehoor geskryf en fokus dus sterk op Jesus as Messias.  Verder was die lesers Christene in die eerste eeu, na Jesus sterwe en opstanding.  Waar hulle gedink het dat die evangelie goed ontvang sal word,  het dit maar te dikwels op onvrugbare grond geval.  Die eerste eeu se gelowiges het reeds hul persoonlike deel van verwerping ervaar.  Hul aanvanklike entoesiasme het begin vervaag.  Vir baie het die geloof te veel begin raak, sodanig dat sommige afvallig geword het.

 

Tweedens, waar die gelykenis van die saaier geplaas is in die konteks van die boek Matteus.  In hoofstukke 11 & 12 kom die konflik tussen Jesus en die Jode vir die eerste keer na vore.  Mense wat met Koninkryk gekonfronteer word,  erken of aanvaar dit nie. Die vraag begin nou ontstaan: Hoe kan mense Jesus hoor, die wonders sien,  en steeds nie glo nie?

 

In verse 10-17 vra die dissipels vir Jesus hoekom in gelykenisse praat.  Interessant, nie wat die gelykenis beteken nie, maar hoekom Jesus gelykenisse gebruik.

 

Die meeste geleerdes glo dat verse 18 - 23 waarskynlik nie ‘n interpretasie is wat deur Jesus gegee is nie, maar later deur die eerste-eeuse kerk.  Veral die allegoriese styl daarvan is tipies van kerk van daardie tyd.  Dis ook uiters ongewoon vir mense wat gelykenisse vertel, om dit ook uit te lê.

 

Inleiding

Mense het allerhande dinge te sê oor wat die oudste beroep in wêreld is.  Maar ek dink die oudste beroep in wêreld, is ‘n boer - eintlik tuinier.  En God is die oorspronklike boer, die een wat lewe op hierdie blougroen planeet van ons geskep het.  Die Een wat uit ‘n klein, kwansuis lewelose saadjie, lewe laat spruit.

 

God het ‘n tuin geskape vir Adam en Eva en hulle as tuiniere aangestel. Maar hulle het nie na die tuin omgesien nie. Gevolglik het daar dorings en onkruid gekom en kan die mens net met harde werk van die plante eet.

 

Dan kom die tweede Adam. Hy’s ook ‘n tuinier - ‘n saaier wat sy saad oor die landskap strooi.   Jesus begin boer op die hardste kleigrond, in die droogste woestyn, om ‘n nuwe Tuin van Eden te skep, ‘n landskap van verlossing vir die hele skepping.

 

Konteks

As ons die eerste deel van Matteus 13 lees,  is dit duidelik dat die teks nie in die eerste plek oor die saad gaan nie, maar oor die saaier. 

 

Matteus 13 is tussen 2 groepe aktiwiteite van Jesus:  enersyds gesprekke met teenstanders (Matt 11-12), enersyds wonders en gesprekke met Fariseërs (Matt 14-17).  In die verloop van hierdie paar hoofstukke, begin die weerstand teen Jesus toeneem.  Die Fariseërs tree vir die eerste keer in direkte debat met Jesus (12:1-8).   Julle begin planne beraam om Jesus dood te maak (12:14).  Ons lees dat Jesaja se belofte vervul is, wat insluit (12:21):

“En op Hom sal die nasies [die nie-Jode] hul hoop vestig.”  Die Fariseërs glo Jesus werk saam met Beëlsebul, Jesus reageer deur te beweer dat hulle nie goeie vrugte dra nie, omdat hulle slegte bome is.  Hulle is ‘n slegte en afvallige volk wat vir ‘n teken vra.

 

En nou moet ‘n mens begin wonder: Hoekom glo die mense nie? Wat is hier aan die gang? Is daar enige manier om hierdie goed te verklaar? 

 

Die antwoord is:  Ja.  Die antwoord begin met woorde: “‘n Saaier het eendag gaan saai...”

 

Gelykenisse

Hier lees ons Jesus se eerste gelykenis.  Ons kan dadelik regop sit en vra:  Hoekom het Jesus ‘n gelykenis gebruik?  ‘n Gelykenis is letterlik raaisel.  Nie ‘n metafoor nie, maar ‘n  raaisel wat ons moet oplos. 

 

Ek lees die week van ‘n storieboek deur ene Ellis Peters, oor ‘n 12e eeuse speurder genaamd Broer Cadfael.    In die boek ontstaan daar ‘n hewige geskil oor die beendere van Heilige Winifred. Twee Benediktynse huise, by Shrewsbury en Ramsey, sê dat hulle hierdie gesogte beendere het.  Daar word dan uiteindelik besluit om die geskil op te los met die volgende metode:  elkeen wat aanspraak maak daarop hulle die ware relik het, stap na die Bybel met hul oë op die grond, blaai ‘n paar bladsye en wys na ‘n teks. Die verse sal dan ‘n leidraad gee hoe die geskil besleg moet word.

 

Maar die Bybel werk nie so nie. Hoewel die Bybel antwoorde gee oor wie ons is en aan wie ons behoort, gee die Bybel oor die algemeen meer vrae as antwoorde. Veral wanneer dit by gelykenisse kom.  Jesus se gelykenisse weier om die antwoord-speletjie te speel.  Hulle veroorsaak eerder vrae by dié wat dit lees.  Iemand het gesê: die gelykenisse veroorsaak genoegsame twyfel oor wat dit presies beteken, om die brein aan die gang te skop.

 

So Jesus se gelykenisse was nie blote metafore nie, nie stories met ‘n morele lessie nie, maar ontstellende stories wat die luisteraar se veilige manier van die wêreld sien, omkrap en onderstebo draai.  Jesus se gelykenisse daag die aannames waarmee ons gewoonlik leef, uit, bring die ongesiende raamwerk wat ons gewoonlik gebruik  om die werklikheid te interpreteer, na vore.

 

Die onmiddellike vraag ons dan moet vra, as Jesus hier in ‘n gelykenis praat, is watter aannames in sy luisteraars se manier van dink en lewe Jesus met hierdie gelykenis wou uitdaag?  Hoe draai dit ons sien van die werklikheid onderstebo?

 

Oorvloed

In die eerste plek gee dit vir ons ‘n aangrypende kyk op die saaier.  Hierdie saaier kom uiters slordig en verkwistend voor.  En tog, ten spyte van die saad wat verlore gaan, kry die saaier ‘n dertig-, sestig- en honderdvoudige oes. 

 

Wat goeie nuus sou wees vir Jesus se oorwegend werkersklas gehoor.  Die oes sal die grondeienaar bevredig, daar sal saad vir die  volgende seisoen voorsien word, alle belasting kan betaal word en daar sal genoeg vir die werkers oor wees om sy familie te voed.  Goeie nuus, beslis.  By hierdie saaier is daar oorvloed.  Seën. Lewe. 

 

En as mens dan vra watter van ons aannames dit omkeer, dan sou ek sê ons aannames rondom effektiwiteit.  Ons gebruik normaalweg taal van produksie en effektiwiteit, meet ons besluite aan die effektiwiteit daarvan.  Wanneer ons moet besluit wat om te doen, wat die Here se wil is, probeer ons vooruitkyk wat die beste resultate sal lewer, wat die effektiefste sal wees.  En dan neem ons besluite op grond van die effektiwiteit daarvan.  (Ek praat nou spesifiek i.t.v. ons bediening, roeping, God se wil gehoorsaam, uitreik na ander).

 

Maar in die gelykenis is daar baie saad wat gemors word.  Hoeveel boere sal vandag te werk gaan soos hierdie saaier? Dis eenvoudig nie effektief nie! Te veel saad word vermors.

 

Hoe daag hierdie gelykenis ons dan uit wanneer ons dink aan hoe ons getrou is in ons betrokkenheid by die kerk, ons offergawes, ons evangelisasiewerk, ons aanbidding?

 

Moet ons sendelinge ondersteun wat nie x aantal bekeerlinge per y hoeveelheid rand kan wys nie? Moet ons vir mense kos en ander hulpmiddels gee as hulle dit gaan mors? Moet ons kinders laat belydenis aflê as ons weet hulle gaan nie gou weer - indien ooit - in die kerk kom nie? Kan ons van God se genade “mors” op sondaars?  Hoe stel ons ons begroting as gemeente op; hoe besluit ons oor ons offergawes as rentekoerse en hoë lewenskoste druk; hoe beplan ons eredienste; hoe reik ons uit na ons gemeenskap; hoe dien jy jou gesin, die mense by jou werk?  Hoe hou jy aan om na iemand uit te reik, al lyk dit asof jou pogings nie wortel skiet nie?

 

Hoe meet ons effektiwiteit, as soveel saad gemors word en die oes tog uiteindelik só geseënd is.

 

Mens kan nie anders as om te dink aan nog ‘n gelykenis van Jesus nie: net hierna in Matteus 13, die gelykenis van die onkruid tussen die koring: “Nee, as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek.  Laat al twee saam groei Tot die oes.”

 

Hierdie saaier saai die saad oral, in die vrugbare grond én rondom dit. Want die uiteindelike oes is oorvloedig.

 

Vrugbare grond

Daar gebeur ‘n interessante ding in die teks, wanneer die gelykenis verklaar word:  die saad is telkens die Woord en die mense wat dit hoor die grond.  Die woord skiet nie wortel nie, word weggeneem en dra nie vrug nie.  Maar die laaste saad word die mense. Die woord ontkiem, dra vrug en lewer ‘n oes: honderdvoudig, sestigvoudig, dertigvoudig.

 

So as die eerste deel ons aandag fokus op die wese van die saaier, fokus die tweede deel ons aandag op die saad.

 

Dis hier waar ons kan kyk na die verskille tussen Matteus en die Markus-teks.  Matteus lê baie sterk klem op VERSTAAN.  Hy noem dit ses keer in hoofstuk 13, terwyl dit net een keer in die Markus-weergawe voorkom.  So duidelik is die verstaan vir Matteus belangrik.  Die woord moet nie net gehoor word nie, maar ook verstaan word.  (Vir Matteus gaan dit natuurlik spesifiek om die Koninkryk - ek hoop Chris sal volgende week meer daaroor uitbrei.)

 

Iemand het gesê as ons nie bereid elke dag minstens ‘n kwartier lank “akker” te wees nie, bereid is om omgeploeg te word en te wag op wat God in die vore wil saai nie, het ons eintlik reeds die spel verloor.  Die Woord van God eis ons op.  Daarom is oordenking van God se woord ‘n sentrale aspek van die gelowige se lewe.  Goeie grond is ‘n lewenshouding wat die Woord ernstig opneem, daarmee besig is.  Ons kan net vrugte dra, as ons lewens gewortel is in die Woord.

 

Die verskillende plekke waar die saad val, is ook nie noodwendig verskillende mense nie, maar kan verskillende akkers binne elkeen van ons wees.  Sommige aspekte van die woord verstaan ons, terwyl ander sukkel om wortel te skied. 

 

Vrugte dra

Dis wanneer ons met die woord besig is, dit hoor en verstaan, wat ons vrugte dra.  Aan ons vrugte word ons geken.   Aan ons vrugte sal ons weet dat die woord in vrugbare grond geval het.  En deur die vrugte wat ons lewens dra, saai ons self verder die woord, IS ons die evangelie vir ander.

 

Op ’n lentedag het ’n “naweek tuinier” vir ’n vriend uit ’n ander dorp pakkies saadjies gewys wat hy deur die pos ontvang het.  Die reënboog gekleurde pakkies het groot, sappige, smaaklike groente van elke soort belowe. “Dit sal verseker my beste tuin ooit wees!” het die naweek tuinier gespog!

 

Later die somer het dieselfde vriend weer kom kuier. “Hoe gaan dit met jou tuin?” “Ek is jammer om te sê, maar dit het nie goed gegaan nie!” antwoord hy. “Dis ’n jammerte”, simpatiseer hy, “wat is die probleem?  Swak grond?  Pes?  Droë weer?” Die tuinier het sy kop geskud.  “Was die saadjies ’n probleem?” vra die vriend verder.

 

“Ja, ek dink die saad was die probleem” het die tuinier geantwoord.  “Jy sien, ek het nooit gekom by die punt waar ek die saadjies kon plant nie!”

 

As ons die saad vir onsself hou, sal ons nooit ‘n oes lewer nie.  Al val dit soms op die pad of tussen die onkruid, ss ons dit nie deel nie, sal dit nie groei nie. 

 

Vir Matteus is die gelowiges diegene wat goeie vrugte dra. Rick Warren skryf in sy “Doelgerigte Kerk” dat die vrug van ‘n gelowige nóg ‘n gelowige is.   As ons Jesus se groot opdrag in ag neem, dan is die vrug wat ons moet dra, nie net liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing nie.  Dan is die vrug wat ons dra, nóg gelowiges, die uitbreiding van die oes deur die bekering van nie-gelowiges. 

 

God verwag van die kerk om te groei - nie net met die geboorte van babatjies nie. Hy verwag van ons om vrug te dra, oes te lewer.  Kol 1: 6 sê dat die evangelie oor die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei. 

 

Hoekom Here ons gemeente hier, nou, in Somerstrand geplaas? Waar moet ons oral saai?

Is ons net ‘n hawe vir onsself, of is ons ‘n hawe wat mense innooi, wat saad oorvloedig saai, oral waar ons kom, sodat ons vrugte kan dra, ‘n oes oplewer?

 

Hoekom het die Here jou in jou gesin geplaas?  In jou werk?

 

Die vraag is: Dra ons vrugte? Of dalk eerder: Is ons besig om saad te saai?

 

Natuurlik is dit God wat laat groei.

 

As ons die woord hoor en verstaan, dan dra ons vrug. Ons elkeen se roeping is om uit te gaan  en saad te saai, oorvloedig.  En dan kan ons kyk hoe God laat groei. God is verantwoordelik vir die oes. Dit is hy wat die saak laat lewe, laat wortel skiet en laat vrug dra.  Ons taak is om aan te hou plant, aan te hou saai. Ons taak is om steeds te bly glo in die groen hoop van lewe, dat daar lewe is in elke saadjie wat ons saai, elke keer wat ons die goeie nuus van Christus se liefde en genade uitleef. 

 

Een van mense wat, as deel van die Biddend Luister span, weekliks vir die gemeente bid en God wil soek, skryf n.a.v. hierdie teks:  “My gebed is  dat God ons sensitief sal maak van hoe betrokke Hy werklik in ons lewens is en hoe baie kanse ons per dag het om ‘n groot oes op te lewer. Baie saadjies is dinge waaraan ons fisies niks kan doen nie en vra bloot ‘n gebed om vrugte te dra. Mag ons op hierdie manier die hele dag in kontak met God en van sy teenwoordigheid bewus bly.”

 

Dis hoekom die Here ons gered het, hoekom die saad by ons geland het, hoekom ons aan die kerk behoort, hoekom ons dankoffer gee, hoekom die Here ons hier geplaas het:  sodat ons kan vrugte dra, sodat die oes dertigvoudig, sestigvoudig, honderdvoudig kan wees.

 

Antwoord met ons lewe - besluit op gepaste reaksie op wat God vir ons gesê het: 

                         

AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar