Die gemeentes van Bloemendal en Somerstrand skakel al vir meer as 20 jaar met mekaar. Aan die begin was Oom Danie Veldsman die belangrike dryfveer en Christine vertel hoe hulle baie keer sommer by hulle aan huis vergader het.

Oor die jare heen het die verhouding tot ‘n baie meer volwasse vlak ont-wikkel, waar mense uit beide gemeentes mekaar leer ken en waardeer het. Sodoende het die twee gemeentes ook nader aan mekaar gegroei, met gereelde oor-en-weer besoeke, etes en gesprekke. Hulle het ook al saam met ons gemeente op Transkei-uitreike gegaan.

Aan die begin van April het hulle met ‘n versoek na ons gekom. Dit het gegaan oor die nood van hulle kinders, wie nie altyd goed genoeg voorberei word vir hulle eksamens nie, maar wat ook met baie struikelblokke te doen het soos oorvol huise, dwelms, gebroke ouerhuise, armoede en geen of min ondersteuning van hulle ouers. Kinders wat meestal alleen gelaat word om op hulle eie voort te sukkel, dikwels sonder hoop dat hulle Godgegewe potensiaal enigsins ontwikkel gaan word.

Na twee indringende gesprekke is die voorbereiding op koers vir ‘n Somerstrand “uitreik” na Bloemendal om saam met hulle ‘n winterskool aan te bied vir Gr 10-12 leerders uit hulle gemeente en saam daarmee ook ‘n ouerleidingsprogram.

Die beoogde program duur vanaf Vrydag die 24ste Junie tot Sondag die 3de Julie. Die eerste Vrydag en Saterdag gaan ons voorbereiding doen vir die week, Sondag is daar ‘n “uitstuur ” diens by Bloemendal en die aand ‘n program vir ouers. Maandag tot Vrydag bestaan die program uit klasse, etes, volleyball, krieket en sokker.  Saterdag is daar uitstappie na Addo en die Sondag ‘n terugvoer en afsluitingsdiens in Somerstrand.

Ons benodig dringend elkeen wat kan help. Dit sluit in onderwysers, skoliere, kosmakers, mense wat bid, kan help met sport, gesprekke met kinders en ouers, vervoer, finansies en administrasie. Ons het huisvesting in Somerstrand indien van die deelnemers daar saam wil bly vir die 10 dae. Neem asseblief ‘n pamflet by die deure.

Navrae:  Johan McFarlane - kry sy nommer by die kerkkantoor

 

AddThis Social Bookmark Button

This content has been locked. You can no longer post any comment.